Ek is so tevrede soos ’n kat wat room gekry het.
Life is simply better with a cup of coffee in the one hand
Intro
Dis Vrydagmiddag, maar ons werksweek is nog skaars in die helfte, aangesien ons Woensdae tot Sondae werk. Juis om die rede gaan soek ek toe vroeg die oggend een van die koffiewinkels wat op my Shanghai-koffiewinkel-bucketlist is.
Die Kronkelpad
Simply Better is so klein jy mis hom maklik - en dit het inderdaad met my en Lalie gebeur. Dit is eers die vierde adres wat ons op Google Maps ingetik het, wat ons tot by die voordeur van ons bestemming gebring het (tip: volg die adres wat op Tripadvisor verskyn). Alhoewel ek aanvanklik negatiewe kommentaar hieroor wou skryf, het die wandelpaadjie op die ou einde vir ons baie beteken. Sou ons nie verlore raak nie, sou ek nie ’n pienk teewinkel ontdek het nie (die mure, die dekor, die gesegdes teen die mure, die tafeltjies, die stoele, alles wat aangeraak kan word in hierdie plek is pienk), of heerlike Chinese straatkos vir ontbyt geëet het nie. As mens mooi kyk is daar tog altyd seën op die kronkelpad.
So, uiteindelik na vier kilometer se stap in al wat ’n verkeerde rigting is, het ons die klein koffiewinkel ontdek, ’n klein grys gebou met deure wat op die straat oopmaak - Daar is slegs twee verligte woorde teen die muur wat aandui dat ons op die regte plek gearriveer het - Simply Better.
As agter koffiewinkels aanloop ’n sport was, het ek al erekleure gehad. Nie drie verskillende adresse, ver kilometers, duur pryse of beperkte tyd kan my keer nie. Boonop was dit die heel duurste koffie wat ek al in my lewe gedrink het. Maar bygesê, ek gaan dit heel waarskynlik weer gaan drink voor ek volgende jaar weer met my tassies op Afrika se stoep opdaag.
Café Merci, Parys
Dit vat my sommer terug na nog ’n storie oor ’n klein koffiewinkel en die stappe wat ek sal neem om by die mooiste, bekendste kafees (volgens Pinterest en Instagram natuurlik) koffie te gaan drink.
Dit was ’n wintersnaweek in Parys, Januarie 2018. Ek het vir die naweek alleen deur Parys getoer en wat ’n wonderlike ondervinding was dit nie. Ek staan dikwels steeds in verwondering oor hierdie stad en sy mense - seker hoekom ek nou onlangs die boek, How to be a Parisian wherever you are, gekoop het. Hier lees die mense op treine. Staan hulle vroeg in die oggend op om baguettes en blomme te koop. Soen hulle op straat. Eet hulle pasta by straatkafees op die hoek. En argumenteer hulle oor kuns.
Dit was ’n ongelooflike groot bederf om in die strate van Montmarte te wandel, poskaarte te koop en wêreldbekende museums te besoek. Alhoewel ek al van te vore in Parys was, het ek hierdie naweek gebruik om myself in die stad se kuns- en koffiewinkelkultuur te dompel. Dis juis hoekom ek toe skuins voor 16:00 op die Saterdagmiddag wat ek daar is besluit om ’n koffiewinkel genaamd Café Merci te gaan soek - En dit na etlike kilometers se stap die dag deur die toeriste attraksies (skies vir die anglisisme, maar ek hou van die woord). Ek was geweldig selfsugtig met my tyd daardie naweek - Ek kon en het gemaak net wat ek wou.
Daar was niemand wat vir my kon sê ek is van my sinne beroof om byna ’n uur lank te pendel na die plekkie toe nie, of erger dat hulle sou verkies om eerder iets anders te doen nie.
Die koffiewinkel is bekend en besig. Ek het vir meer as 30 minute tougestaan (dis nou ná die uur lange pendel) om in saligheid ’n cappuccino te drink. Boonop was dit die tweede duurste koffie wat ek al in my lewe gedrink het (alhoewel dit op daardie stadium eerste plek ingeneem het). Ek het myself by ’n klein swart tafeltjie in die hoek gaan tuismaak en my wysvinger oor die rûe van die tweedehandse boeke gevryf wat die een muur van die koffiewinkel volstaan. Hierdie literêre kafee het my asem weggeslaan en ek het vir twee ure daar in verwondering gesit oor die ongelooflike boekversameling en die onwerklike gevoel dat ek op ’n Saterdag in ’n koffiewinkel in Parys sit.
Terug by Simply Better
Maar terug by die onderwerp van dié blog post.
Simply Better het nie baie sitplek nie en ons was die enigste mense wat koffie die oggend daar gedrink het. Ek het met my rug teen die growwe muur gesit en uitgekyk op die straat met sy baie bome.
Die ontwerp van Simply Better is rof tog elegant met ’n palet van grys en wit. Wat my veral opval van hierdie plek is die sterk kontras tussen die “slordige” voorkoms van die koffie en die “skoon” interieur van die plek. Een oomblik sit jy nog en kyk na die simplistiese palet van die kafee en dan ewe skielik bring die kelnerin vir jou ’n “dirty coffee” met twee pierings, want dit mors. Geklopte room loop af teen die kante van die koffiebeker. Hierdie koffie is kenmerkend van Simply Better.
Dis immers bevredigend met hoeveel liefde en respek die barista jou koffie maak. Danksy die oop vertrek kon ek sien hoe sy die koffie maak, die room klop en die donkersjokolade op rasper dat dit soos sneeuvlokkies op die room val. Die “dirty coffee” is ’n dubbel espresso. Dit is wonderlik hoe die sterk, warm koffie en die soet, koue room die perfekte balans skep en mekaar aanvul om uiteindelik jou smaakkoppies te prikkel. Terloops, Simply Better het ook onlangs die “white dirty coffee” en die “dirty cookie” deel van hulle spyskaart gemaak.
What I had
Ek: Dirty Coffee
Lalie: Dirty Chocolate
Next time
Volgende keer sal ek die Dirty Chocolate drink.
Good to know
Maak seker oor die adres voor jy die plekkie besoek, veral as jy nie tyd het nie. Soos reeds genoem het ons die koffiewinkel eers na die vierde probeerslag gevind.
Die koffie is duur (veral vir my wat dikwels tot drie koffies per dag in Stellenbosch gedrink het), maar dis uniek en smaakvol en ’n moet as jy ’n koffie-junkie is.
Ek is onseker of jy die Dirty Coffee kan bestel om weg te neem, maar ek stel dit in elk geval nie voor nie. Die helfte van dié koffie lê in sy voorkoms.
Jy moet die Dirty Coffee drink as jy ’n draai maak by Simply Better. Jy kan by enige ander plek ’n gewone cappuccino bestel.
Ten slotte
Dit wil vir my voorkom asof die meerderheid Westerse koffiewinkels in Shanghai ’n moderne, simplistiese voorkoms het. Die vertrekke van die plekke wat ek nou al reeds besoek het, het almal groot oop vensters (of deure), simplistiese dekor, ’n grys en wit palet en slegs een of twee fokus elemente. Dit behoort interessant te wees of my teorie deur die loop van my jaar in Shanghai gaan versterk, al dan nie. Ek voel die simplistiese, oop interieur bring kalmte in hierdie moderne, chaotiese en vinnige stad met sy 24 miljoen mense. Die koffiewinkels staan selfs vir my ook verder in kontras met die Chinese mode-styl (maar daaroor sal ek ’n volgende keer uitbrei).
Address
Xinzha Lu 1321
Hierdie dag was simply the best.
For the love of art and tea
ArtiZaan
Comments