Toe die roaring twenties vier maande gelede aangebreek het, het ek soos enige ander jaar vir myself lysies gemaak met goed wat ek wil doen, plekke wat ek wil besoek, boeke wat ek wil lees en loopbaandoelwitte wat ek wil bereik.
Ek het in Januarie 2019 vir die eerste keer met Gretchen Rubin se skryfwerk te make gekry en was sedertdien verslaaf daaraan en veral aan haar poduitsending, Happier with Gretchen Rubin. Dis uiteindelik ook waar ek die idee gekry het om my nuwejaarsvoornemes meer kreatief aan te pak en ’n 20 vir 2020 lys op te stel.
Dit het my so geïnspireer dat ek besluit het om 3 lysies te maak:
20 doelwitte wat ek in die jaar wil bereik - opgedeel in verskillende kategorieë van my werk tot my gesondheid, plekke waarna ek wil reis en meer.
Ek wil 20 boeke in 2020 lees
En uiteindelik ook (dit waarna ek die meeste uitsien) 20 koffiewinkels in 2020 besoek.
Ek spandeer dikwels my tyd deur nuwe plekke te verken en van koffiewinkel na koffiewinkel te beweeg. Ek het aan die begin van die jaar teruggetrek Kaap toe, die koffie-hub van Suid-Afrika, wat die perfekte geleentheid geskep het om hierdie koffiewinkel-projek aan te pak.
Hier is dit nou. Terwyl winter al op die kalender aangebreek het, en ek nog nie een koffiewinkel in die laaste 7 weke besoek het nie (dankie corona), het ek besluit dit tyd om oor my ervarings te skryf. Weens onttrekkingsimptome het ek selfs tydens die staat van inperking begin om met my eie koffies te eksperimenteer. Gelukkig kon ek darem in die eerste 3 maande van die jaar al ’n heel paar plekkies op my lys opteken.
So, ek nooi jou hiermee uit om saam met my in my liefde vir dekor, fotografie, knus spasies, warm croissants en louwarm koffie te deel op ’n virtuele reis deur 20 van die Wes-Kaap se mooiste koffiewinkels.
Deurentyd sal ek ook van my vorige ervaring in ander lande deel.
コメント