top of page
Writer's pictureMarzanne Schoeman

C’est Pâtisserie

Updated: Aug 9, 2018

Lovely afternoons are made of café au lait and French macarons.


Inleiding


C'est Pâtisserie se varsgebakte tertjies

Ek weet nie oor wie se lippe hierdie wyse woorde gerol het nie, maar ek stem ten volle saam. Ek sit vanmiddag in C’est Pâtisserie, ’n Franse patisserie geleë in die hartjie van die ou Franse Konsessie in Shanghai.


Alhoewel daar nie Franse makrolletjies op die spyskaart is nie en ek ook nie ’n café au lait bestel nie, is die gebak wat in die glas toonbank vertoon word, iets besonders. Met die in trapslag bestel ek vir my ’n koffie vanaf die “spesiale” afdeling op die spyskaart. Dit was egter nie moeilik om vinnig ’n besluit te maak oor wat om te drink nie, want wat klink nou lekkerder as ’n toffie-sjokolade latté?


Goue dekorelemente is oral in die patisserie teenwoordig

Die klein elegante plekkie is besig. Oral om my is die gewoel van klante wat in- en uitkom en kelners wat bestellings neem en dit dan by die kliënte uitkry. Selfs die tafeltjies staan byna teen aan mekaar, seker om soveel as moontlik mense ingepas te kry (en ek is immers in China, so wat is persoonlike spasie?). Aangesien die plek so besig is (tog lyk almal besonders ontspanne), word ek na die bar afdeling van die koffiewinkel vergesel. Ek sit aan by die bar met sy swart marmerblad en wag dat iemand opstaan sodat ek hul tafel kan inneem. My latté word bedien in ’n goue koppie en piering wat die goue elemente van die dekor in besonder komplementeer. Op die servet wat onder my piering uitsteek, staan daar in eenvoudige goue letters “C’est Patisserie”. Hierdie plek se sjarme slaan my stom.


Die dekor is kontemporêr. Die swart heksagon teëls teen die mure te same met die goue en wit kleurpalet skep die gevoel dat ek binne ’n byekorf sit, ’n besonderse sjiek en elegante een bygesê. Buite staan goue draadstoele, wat as ek my metafoor verder wil vat, die heuning van die korf kan wees. Die dakbalke is oop en onafgewerk en die swart mure is afgerond met prentlose goue rame. Die dekor is besonders in sy eenvoud.


Ek verkyk my aan al die mense en is verbaas om te sien (is ek rêrig?) dat die tafels gevul is slegs met die jonger generasie. As ek moet skat is daar seker nie een mens ouer as 30 in dié patisserie nie (okay dalk die man drie tafels van my af, maar daarvan is ek ook nie 100% oortuig nie). Meeste van die mense drink een of ander grenadella drankie, dis net ek wat 16:10 met ’n koppie vuurwarm koffie voor my sit. Volgens statistieke van 2016 (uit ’n artikel waarvan ek ongelukkig nie nou die naam kan onthou nie) drink die gemiddelde Sjinees ’n skamele een koppie koffie per jaar.


Wat my egter verder verstom is die spoed waarteen die mense kom en gaan. Hulle bestel dikwels meer as een van die nagereggies en maak nie dit of hulle drinkgoed klaar nie. Voor ek nog ’n sluk van my koffie kan vat (alhoewel ek dikwels gekritiseer word oor hoe stadig ek my koffie drink), dan sit daar reeds nuwe mense langs my.



Die Franse invloed is besonders sterk in hierdie patisserie, sowel as die res van Shanghai. Oral om elke hoek en draai loop jy vas in ’n Franse bakkery (wel, daar waar nie ’n Starbucks is nie). Party van hierdie bakkerye verkoop selfs brood in die vorm van die Eiffel Toring. Die Franse invloed is veral ook sigbaar in die argitektuur en die Parisian-like kafees (verskoon my Engels).


Maar ek dink dis hoegenaamd gepas. Shanghai staan dan nou immers bekend as die Parys van die Ooste en ek is tans in die ou Franse Konsessie. Hierdie residensiële gebied is besonders gewild onder toeriste en expats. Ek is ook gaande oor hierdie gebied en waardeer dit vir sy oulike kafees en mooi uitheemse bome wat oral langs die paaie staan. Dis ook hier waar die Propoganda Museum geleë (Maak gerus ’n draai by die museum wanneer jy die stad besoek).


Alhoewel die Franse invloed baie sterk is in C’est Patisserie, voel dit vir my ek sit iewers in New York, vasgevang in ’n Gossip Girl episode. So ja, ek gaan beslis terug kom.


Op my bord


Toffie-Sjokolade Latté


Toffie-sjokolade latté

Volgende keer


Te drinke: Volgende keer gaan ek ook die Granadella drankie drink aangesien dit duidelik die gunsteling onder almal was en ek ook so lief vir dié vrug is.

Te ete: Die klappertertjie (wat ’n volle 88 RMB kos. Ek sal maar solank moet spaar.)


Varsgebakte klappertertjies

Goed om te weet

  • C’est Pâtisserie bedien vars tertjies elke dag

  • Dis duur (maar wat, behalwe rys, is nie in Shanghai nie?)

For the love of art & tea

ArtiZaan

0 comments

Recent Posts

See All

Comments


arti
zaan

Blom waar jy geplant is | Bloom where you are planted

Lifestyle blog

bottom of page